Tuesday, November 30, 2010

My naam is Jakobus Johannes van Alleman. Ek is ‘n twaalfjarige Afrikaner, woonagtig in die Moot, Pretoria, Gauteng, Suid Afrika, Suidelike Halfrond, die Aarde in die een-en twintigste eeu.

My ouma, Ouma Martie Pansegrou, het vir my vir my twaalfde verjaardag ‘n videokamera present gegee. My ma dink dit is ‘n uitspattige geskenk, en dat ouma Martie my voortrek. Ek dink dit is die beste geskenk wat ek nog ooit gekry het, en noodsaaklike toerusting om my voor te berei vir my loopbaan eendag. Ek wil ‘n dokumentêre filmmaker word.

Michael Moore is ‘n groot invloed op my werk. Ek hou van hoe hy allerhande belangrike kwessies ondersoek en mense irriteer omdat hy die waarheid praat. Oor die algemeen hou nie te veel mense van die waarheid nie. My pa sê altyd “Eerlikheid duur die langste”, maar as ek so na die wêreld kyk, dink ek my pa is ‘n dromer of ’n idealis. Of albei.

My eerste projek is om ‘n dokumentêre film te maak oor my familie. Ek hoop dat dit met ‘n vuurpyl in die ruimte ingeskiet kan word, of dalk in ‘n gat begrawe kan word, soos in ‘n tydkapsule of iets, sodat die mense oor ‘n honderd jaar of die aliens van ander planete eendag sal weet wie en wat ‘n Afrikaner was.

My familie het ses lede:

  1. Louis van Alleman: My pa. Die hoof van die gesin. Rekeningkunde-onderwyser van beroep.
  2. Ansie van Alleman, neé Pretorius: Sy eggenoot, en my ma. Moeder en tuisteskepper
  3. Hester van Alleman: Louis en Ansie se eersgeborene. Hester is al op universiteit. Sy studeer kultuurgeskiedenis op Stellenbosch. My ma wens sy wou eerder ‘n apteker of arbeidsterapeut geword het.
  4. Luané van Alleman: n Tienermeisie. Veel meer kan mens nie sê voordat sy haarself nie gevind het nie.
  5. Jakobus Johannes van Alleman: Ekself. Die enigste seun in die familie. Buiten my pa, nou.
  6. Triegie van Alleman: My kleinsussie, en produksie-assistent. Triegie se regte naam is eintlik Trichaardt. Dit is nogal ‘n snaakse naam vir ‘n klein dogtertjie.

Triegie is nogal ‘n snaakse klein dogtertjie. Haar graad een juffrou het eenkeer gesê sy is outisties, toe sê my Ma die juffrou moet haar sielkunde een diagnoses vir haarself hou en leer om beter klas te gee.

Ek het nog oumas en ‘n oupa en ooms en tannies en neefs en niggies ook.
Maar my eerste dokumentêre film gaan nie oor hulle nie.