Monday, February 21, 2011


Terug Skool toe.

Dis nou nog ‘n geldmaakfoefie, soos Valentynsdag en Vadersdag, sê my Pa. Vir wat moet Triegie elke jaar nuwe kokipenne kry, en Seun ‘n nuwe tas? Toe hý op skool was, het hy van graad een tot standerd tien dieselfde skooltas gehad. Maar Ouma Martie sê dis ‘n wit leuntjie, want haar derde man het, solank hy geleef het, elke jaar vir klein Louis ‘n nuwe skooltas gekoop. Pa wou dit net nooit gebruik het nie, want hy het gedink Piet Pansegrou is ‘n lunsriem.

My ou skooltas is nog piekfyn, al trek die gare bietjie los in die agterste afskorting. Die westerse verbruikerskultuur plaas te veel druk op die planeet se bronne, en ons moet probeer om minder te gebruik in die alledaagse lewe, ten einde ons karbiedvoetspoor kleiner te maak, sê Juffrou Schutte.

Juffrou Schutte se vakgebied is Geskiedenis, maar mens noem dit sosiale wetenskap op skool. Dit is my gunsteling vak. Juffrou Schutte is ‘n uitstekende onderwyseres, want sy is slim, met ‘n sagte kalmerende stem, en sy is nooit sarkasties nie. Sy gee interessante huiswerk, en dink dit is ‘n briljante idee dat ek my projekte as multimedia aanbiedings voorlê. Sy sê dit is in die gees van tegnologiese vooruitgang, en pas baie mooi in by haar vakbeleid. Sy het eenkeer my projek oor arachnofobie by haar vakkomiteebyeenkoms gewys. Maar ek moes vir meneer Botha uithaal.

Al die kinders in my klas hou van Juffrou Schutte, behalwe Sybrand en Sagrys. Hulle is bang vir haar. Hulle het eendag vir Herko van der Dam geboelie, en toe het Juffrou Schutte ‘n ernstige gesprek met hulle in haar stoorkamer gehad. Van toe af kan botter nie in hulle monde smelt nie. Maar net in die sosiale wetenskapklas. Elders is hulle steeds lasting. Ek wens sy kon my klasonderwyseres wees, maar mens kan nie kies wie jy wil hê om na jou belange om te sien op skool nie. Die Suid Afrikaanse onderwyssisteem is nie eintlik demokraties vanuit die oogpunt van die leerder nie.

Ons klasonderwyseres is Juffrou Koekemoer. Juffrou Koekemoer het ‘n snor, en sy dra bont rokke en ruik na wierook. My ma sê ons mag nie met haar snor spot nie, sy kan nie help nie, en Luané sê sy lyk soos Frida Kahlo.

Sy is die kunsjuffrou. Juffrou Koekemoer nou, nie Frida Kahlo nie.

Ek is in graad 7E.

Juffrou Koekemoer se witbroodjies is Natasja en Veroeschka Smit. Hulle sit heel voor in die klas en is ‘n tweeling en trek altyd dieselfde aan, al dra hulle nie skooldrag nie. Hulle pa is ‘n dokter, en hulle neem musiek, en spaanse danse. Langs hulle sit Mimmie Ahlers. Haar ma bestuur die tuisnywerheid. Sy is die kleinste in die klas en is maar siekerig. My ma sê dis van te veel lekkergoed eet, maar ek weet nie so mooi nie, want Frikkie van Blerk eet die heel meeste lekkergoed, en hy is nie klein en sieklik nie. Frikkie het ‘n dubbelken, en is net so lank as Juffrou Koekemoer. Hy is ‘n aanwins vir die skool se rugbyspan, want as hy die bal kry raak die ander span se spelers skoon lusteloos. Emil Adams sê Frikkie skeer al vandat hy sewe jaar oud is, maar ek is nie seker dit is biologies moontlik nie.

Emil is my beste maat, en hulle bly reg langs ons, en hy is ook in 7E. Hy kan mooi sing, en my ma sê sy ma wil hom stuur vir oudisies by die Drakensbergse seunskoor. Sy ma wil hê hy moet saam met Rina Hugo sing. Emil sê hy hoop sy stem wil breek, want Sybrand en Sagrys spot hom al klaar oor hy ‘n solo moet sing in “Liefste Moeder ons bring Rose” in die skoolkoor. Sybrand en Sagrys is nie aangename kinders nie, en hulle het al eenkeer probeer om vir Triegie af te knou. Van toe af pla hulle my ook nie meer nie.

Nou pla hulle meestal vir Herko van der Dam. Herko is Hollands en het ‘n bril en draadjies in sy tande en is die heel slimste in die klas. Herko is gewilde teiken vir boelies, want hy is ‘n passifis en het die heel lekkerste toebroodjies in die hele klas, want sy Ma en Pa het ‘n bakkery. Wanneer Herko verjaar nooi hy vir my en Emil en vir Andries Theron, dan slaap ons oor en eet spekulaas en appelflappe en lees Donald Duck komieks. Andries Theron kyk net die prentjies, want hy is ‘n atleet, en kan nie die hollands ontsyfer nie.

Andries Theron is die Don Juan van die klas, sê my ma. Hy is goed met atletiek en wen altyd die Victor Ludorum. Hy wil eendag ‘n siviele ingenieur word. Andries se huidige kys is Liesbet Pols, maar ek is nie seker hoe lank die verhouding gaan hou nie, want Liesbet is nogal ‘n snaakse meisie, en Andries het nie eintlik ‘n humorsin nie. ‘n Verhouding moet gebou wees op gemeenskaplike belangstellings.

Heel agter in die klas sit Ester de Waal, Orpah Mokoena en Rut van der Erwe. Juffrou Koekemoer noem hulle die Bybelmeisies, oor hulle name. Hulle giggel altyd, maar is oor die algemeen soet. Hulle het eers heel voor gesit, maar Juffrou Koekemoer het die klas herrangskik ten einde Sybrand en Saggrys uit die agterbanke te kry.

Heel agter in die hoek, langs die staalkas met al die kunsmateriale, sit Mara Bruinders. Mara lees altyd, selfs in klastyd, maar die onderwysers sien dit nooit raak nie. Ek dink nie hulle sien eintlik vir Mara raak nie, al is sy heel eerste op die klaslys. Soms dink ek Mara is dalk ‘n spook. Sy het eenkeer ‘n sosiale wetenskaptaak gedoen oor haar tante wat al lankal dood is, maar nog steed op familiebyeenkomste opdaag, en op al die foto’s sigbaar is. Juffrou Schutte het die situasie baie taktvol hanteer, en Mara geprys oor haar deeglike navorsing oor bonatuurlike verskynsels, en gevra of sy dan met photoshop kan werk.

Juffrou Schutte is my gunsteling leerkrag, omdat sy altyd ‘n stimulerende atmosfeer in haar klas skep, wat leer bevorder. Sy skep ‘n positiewe Sosio-emosionele klimaat wat ‘n insluitende klaskamersitusaie daarstel ten einde kooperatiewe leermetodes te bevorder.

Dit beteken dat vandat sy die boelies reggesien het werk ons almal lekker saam.