Monday, December 20, 2010

Kersfees is die tyd van die jaar wanneer Afrikaanse mense bymekaar kom en presente uitdeel en dankbaar is vir wat hulle het in die lewe. Vir gesondheid en familie en so aan.

My ma meen Kersfees spandeer mens met familie, so ons gaan nooit see toe of so iets in Desember nie. My pa sê die paaie is in elk geval te vol en gevaarlik, en alles is dubbel so duur. Elke tweede jaar gaan ons Baberspan toe vir Kersfees by Ouma Poppie. Dit is warm in die Noordwes in Desember, so Baberspan Kersfees is meestal swem in die plaasdam, en Waatlemoen eet. Behalwe op kersdag, want dan moet mens aantrek en kerk toe gaan en daarna drie vleise en groente eet met doekpoeding daarna. In Ouma Poppie se eetkamer, wat koel en donker is, met stywe lapservette, en die messe en vurke wat die heeljaar in die vertoonkas lê. Dan mag ons glad nie swem nie, oor dit kersdag is, en omdat mens nie met ‘n vol maag swem nie, en na Ouma Poppie se doekpoeding wil mens in elk geval liewer net op jou rug lê.

Maar ons was verlede jaar op Baberspan, so hierdie jaar is kersfees by Ouma Martie. Daar is nie eintlik plek in “Die silwer Blaar” om familie te ontvang nie, so Ouma Martie se kersfees is altyd by een van haar kinders.
Ouma Martie hou daarvan om haar Kersfees in ons huis te kom vier, want sy sê Oom Arno se woonstel is te klein en donker vir die krismis spirit, en Tannie Rita se huis te groot en glansryk om ‘n stalgeboorte in te herdenk. Oom Arno en Tannie Rita is haar ander kinders. Oom Arno hou nie daarvan as ons vir hom “oom” sê nie, en gee letterkunde by die universiteit. Hy is nie getroud nie, en het baie vriendinnetjies. Tannie Rita is n vryskut eiendomsagent en bly in Waterkloofrif. Tannie Rita se man se naam is Johans en hy ry ‘n Mercedes met ‘n afslaan dak, en hy is ‘n besigheidsman. My pa sê dis nou ‘n mooi naam vir ‘n tyresmous, maar nie voor hulle nie. Tannie Rita hou nie daarvan om by ons te kom kuier nie, want sy sê mens kan nie Classic FM in die Moot opvang nie. Hulle het twee kinders, Jean-Pierre en Elisma. Jean-Pierre is veertien en het laas kersfees ‘n Quadbike present gekry. Elisma is net so oud soos my sussie Luané, en is in ‘n privaatskool omdat sy perdry en in sterrekunde belangstel. Mens kry dit nie in die gewone skole nie.

Hulle kom almal vir Kersdag na ons toe. My ma is maar senuweeagtig oor sy vir so baie mense moet kook. Sy is maar senuweeagtig as sy vir min mense moet kook ook. Ouma Martie sê bog dit sal goed gaan, sy sal die poeding maak. Ouma Martie maak die beste trifle in die hele wêreld. Sy sê die geheim lê in die brandewyn.

Oom Arno sê Kersfees is bourgeois en ‘n simptoom van die materialistiese westerse lewensbeskouing. My ma sê Oom Arno is net in beginsel teen enige tradisionele waardes en tradisies omdat hy ‘n diepgaande vrees vir voorstedelikheid koester.

Maar hy kom elke jaar saam kersfees hou, want die intellektuele wêreld raak maar eensaam oor Desember.

Ek en Triegie is besig om ‘n voorstelling van die stalgeboorte uit papier mache te maak, en Luané gaan die kersboom versier. Luané is baie kreatief, en wil gaan kuns studeer by Stellenbosch as sy klaar is met matriek. Sy wou eintlik ‘n wit kersboom gemaak het, maar my Ma sê Kersfees is alreeds plastiek genoeg, en hier is nie sneeu nie, en mens kan die denneboompie na die tyd aan die outehuis skenk. Ouma Martie sê bog, net nie nog sipresse op die perseel nie, dit lyk al na ‘n begraafplaas. Toe besluit hulle op ‘n kaktus, want dit is meer afrikaerig, en die dorings help om die versierings op te hang.

My oudste suster Hester is nie hier vir Kersfees nie. Hester studeer filosofie op Stellenbosch. Sy is in Malawi saam met haar kerk se jeuggroep, waar hulle uitreik en ‘n kerk uit modder en gras bou. Amper soos die stal in Betlehem, sê Triegie.

Ek hou nie eintlik van Kersfees nie, want dit is altyd vir my ‘n teleurstelling vandat ek uitgevind het vader Krismis is ‘n mens se pa. Ek het dit uitgevind toe ek sewe jaar oud was, toe Vader Krismis Jean-Pierre se pa was. Ek wou weet hoekom Jean-Pierre ‘n radiobeheerde motortjie kry, en ek net ‘n kerkhemp en ‘n inkleurboek. Sedertdien was Kersfees nog nooit weer dieselfde nie, maar ek het my nou al met teleurstelling vereenselwig.

My ma gaan ‘n kalkoen braai wat van Baberspan af kom. Sy het al drie maal geoefen, en kry dit heel goed reg. Tannie Rita bring ‘n geglasuurde ham van Woolies, en Oom Arno gaan n eksotiese voorgereg maak, maar ons weet nog nie wat nie. Oom Arno maak lekker kos, maar dit is maar bietjie vreemd vir die boerepalaat, sê my pa.
Ma sê ontspan, dis net voorgereg, so die porsies sal klein wees. Ma wou eintlik weer fopkreefkelkie gemaak het soos altyd, toe sê oom Arno ag here nee, hy sal voorsien. Die lewe is te kort vir slegte wyn en fopkreefkelkie.

No comments:

Post a Comment