Thursday, January 6, 2011

Nuwejaarsvoornemens is goed, want dit gee rigting aan ‘n mens se jaar, dit is soos ‘n prioriteitslysie, sê Ouma Martie. Sy skryf haar nuwejaarsvoornemens sorgvuldig op haar jaarbeplanner op, en hou boek van wanneer sy watter een uitvoer.
My Ma sê nuwejaarsvoornemens is ‘n manier om mens se aandag te vestig op die dinge wat ‘n mens die vorige jaar agterweë gelaat het, en my Ouma kan maklik praat, want sy is afgetree en woon in ‘n rusoord, en haar nuwejaarsvoornemens het te doen met purple rinse en valstande. Sy wat Ma is moet drie kinders en ‘n man se lewens reel en dis ‘n ander storie en mens het nie tyd vir lysies nie, tensy dit 'n inkopielysie of die kinders se buitemuurse aktiwiteitslysie is.
My Pa sê nuwejaarsvoornemens is net nog ‘n manier waarop die mense geld uit ‘n mens wil maak, soos kersfees en Valentynsdag en Moedersdag ensovoorts. Maar hy kon nie vir ons sê hoe presies mense geld maak uit nuwejaarsvoornemens nie. Ek dink hy wou net Ma en Ouma Martie se aandag aftrek van ‘n plofbare situasie.
Oom Arno sê nuwejaarsvoornemens is net nog ‘n manier waarop ons Calvinisties- begronde lewensuitkyk ons laat skuldig voel oor ons sogenaamde tekortkominge. Ons onderneem dan om hierdie tekortkominge op te hef deur onrealistiese verwagtinge aan onsself te stel. Wanneer ons dan nie daarin slaag om aan hierdie verwagtinge te voldoen nie, versterk dit ons selfhoon, wat die onderliggende doel is van die Christelik Calvinistiese lewensbeskouing. Of so iets. Ek weet nie mooi wat hy bedoel nie.
My kleinsussie Triegie het by ons oudste sussie Hester ‘n boek gekry vir Kersfees: “Calling on Extraterrestrials”. Haar nuwejaarsvoorneme is gevolglik om kontak te maak met wesens van ‘n ander planeet.
Luané sê sy dag Triegie het lankal, en háár voorneme is om te groei in haar kuns en te streef na selfverwesentliking.
My Ma sê sy wens Luané wil voorneem om hierdie jaar nie deure te klap nie.
Luané sê sy wens my ma wil voorneem om nie op haar te pik nie.
My pa sê wie wil voorneem om te gaan koffie maak, en is daar nie nog van Ouma Poppie se vrugtekoek oor van Kersfees nie?
Ouma Martie sê nee. Poppie se vrugtekoek is te ryk, dit gee haar sooibrand.
Ma sê beggars can’t be choosers en haar ma se vrugtekoek is die beste in die hele Noordwes provinsie, en sy maak skoonskip op landbouskoue van Parys tot Mafikeng.
My Pa sê Liefie jy moet hierdie jaar 'n tydjie maak om te fokus op jou brandskilderwerk, of wat van jy doen daai ekstra potterykursus waar ‘n mens ‘n vyf-en-twintig stuk eetstel in ‘n jaar maak.
My Ma sê kan sy regtig, en my Pa sê ja en toe soen sy hom en gaan maak koffie.
Toe sê oom Arno die jaar moet nou rigting kry, almal se senuwees is dun van al die feesvier.

My nuwejaarsvoorneme is om beter te doen in geskiedenis, sodat Juffrou Schutte trots kan wees op my. En om my dokumentêre film oor my familie voort te sit. Dit is een van daai projekte wat nooit eintlik ‘n einde sal kry terwyl daar nog ‘n van Alleman rondloop om af te neem nie.