Monday, February 21, 2011


Terug Skool toe.

Dis nou nog ‘n geldmaakfoefie, soos Valentynsdag en Vadersdag, sê my Pa. Vir wat moet Triegie elke jaar nuwe kokipenne kry, en Seun ‘n nuwe tas? Toe hý op skool was, het hy van graad een tot standerd tien dieselfde skooltas gehad. Maar Ouma Martie sê dis ‘n wit leuntjie, want haar derde man het, solank hy geleef het, elke jaar vir klein Louis ‘n nuwe skooltas gekoop. Pa wou dit net nooit gebruik het nie, want hy het gedink Piet Pansegrou is ‘n lunsriem.

My ou skooltas is nog piekfyn, al trek die gare bietjie los in die agterste afskorting. Die westerse verbruikerskultuur plaas te veel druk op die planeet se bronne, en ons moet probeer om minder te gebruik in die alledaagse lewe, ten einde ons karbiedvoetspoor kleiner te maak, sê Juffrou Schutte.

Juffrou Schutte se vakgebied is Geskiedenis, maar mens noem dit sosiale wetenskap op skool. Dit is my gunsteling vak. Juffrou Schutte is ‘n uitstekende onderwyseres, want sy is slim, met ‘n sagte kalmerende stem, en sy is nooit sarkasties nie. Sy gee interessante huiswerk, en dink dit is ‘n briljante idee dat ek my projekte as multimedia aanbiedings voorlê. Sy sê dit is in die gees van tegnologiese vooruitgang, en pas baie mooi in by haar vakbeleid. Sy het eenkeer my projek oor arachnofobie by haar vakkomiteebyeenkoms gewys. Maar ek moes vir meneer Botha uithaal.

Al die kinders in my klas hou van Juffrou Schutte, behalwe Sybrand en Sagrys. Hulle is bang vir haar. Hulle het eendag vir Herko van der Dam geboelie, en toe het Juffrou Schutte ‘n ernstige gesprek met hulle in haar stoorkamer gehad. Van toe af kan botter nie in hulle monde smelt nie. Maar net in die sosiale wetenskapklas. Elders is hulle steeds lasting. Ek wens sy kon my klasonderwyseres wees, maar mens kan nie kies wie jy wil hê om na jou belange om te sien op skool nie. Die Suid Afrikaanse onderwyssisteem is nie eintlik demokraties vanuit die oogpunt van die leerder nie.

Ons klasonderwyseres is Juffrou Koekemoer. Juffrou Koekemoer het ‘n snor, en sy dra bont rokke en ruik na wierook. My ma sê ons mag nie met haar snor spot nie, sy kan nie help nie, en Luané sê sy lyk soos Frida Kahlo.

Sy is die kunsjuffrou. Juffrou Koekemoer nou, nie Frida Kahlo nie.

Ek is in graad 7E.

Juffrou Koekemoer se witbroodjies is Natasja en Veroeschka Smit. Hulle sit heel voor in die klas en is ‘n tweeling en trek altyd dieselfde aan, al dra hulle nie skooldrag nie. Hulle pa is ‘n dokter, en hulle neem musiek, en spaanse danse. Langs hulle sit Mimmie Ahlers. Haar ma bestuur die tuisnywerheid. Sy is die kleinste in die klas en is maar siekerig. My ma sê dis van te veel lekkergoed eet, maar ek weet nie so mooi nie, want Frikkie van Blerk eet die heel meeste lekkergoed, en hy is nie klein en sieklik nie. Frikkie het ‘n dubbelken, en is net so lank as Juffrou Koekemoer. Hy is ‘n aanwins vir die skool se rugbyspan, want as hy die bal kry raak die ander span se spelers skoon lusteloos. Emil Adams sê Frikkie skeer al vandat hy sewe jaar oud is, maar ek is nie seker dit is biologies moontlik nie.

Emil is my beste maat, en hulle bly reg langs ons, en hy is ook in 7E. Hy kan mooi sing, en my ma sê sy ma wil hom stuur vir oudisies by die Drakensbergse seunskoor. Sy ma wil hê hy moet saam met Rina Hugo sing. Emil sê hy hoop sy stem wil breek, want Sybrand en Sagrys spot hom al klaar oor hy ‘n solo moet sing in “Liefste Moeder ons bring Rose” in die skoolkoor. Sybrand en Sagrys is nie aangename kinders nie, en hulle het al eenkeer probeer om vir Triegie af te knou. Van toe af pla hulle my ook nie meer nie.

Nou pla hulle meestal vir Herko van der Dam. Herko is Hollands en het ‘n bril en draadjies in sy tande en is die heel slimste in die klas. Herko is gewilde teiken vir boelies, want hy is ‘n passifis en het die heel lekkerste toebroodjies in die hele klas, want sy Ma en Pa het ‘n bakkery. Wanneer Herko verjaar nooi hy vir my en Emil en vir Andries Theron, dan slaap ons oor en eet spekulaas en appelflappe en lees Donald Duck komieks. Andries Theron kyk net die prentjies, want hy is ‘n atleet, en kan nie die hollands ontsyfer nie.

Andries Theron is die Don Juan van die klas, sê my ma. Hy is goed met atletiek en wen altyd die Victor Ludorum. Hy wil eendag ‘n siviele ingenieur word. Andries se huidige kys is Liesbet Pols, maar ek is nie seker hoe lank die verhouding gaan hou nie, want Liesbet is nogal ‘n snaakse meisie, en Andries het nie eintlik ‘n humorsin nie. ‘n Verhouding moet gebou wees op gemeenskaplike belangstellings.

Heel agter in die klas sit Ester de Waal, Orpah Mokoena en Rut van der Erwe. Juffrou Koekemoer noem hulle die Bybelmeisies, oor hulle name. Hulle giggel altyd, maar is oor die algemeen soet. Hulle het eers heel voor gesit, maar Juffrou Koekemoer het die klas herrangskik ten einde Sybrand en Saggrys uit die agterbanke te kry.

Heel agter in die hoek, langs die staalkas met al die kunsmateriale, sit Mara Bruinders. Mara lees altyd, selfs in klastyd, maar die onderwysers sien dit nooit raak nie. Ek dink nie hulle sien eintlik vir Mara raak nie, al is sy heel eerste op die klaslys. Soms dink ek Mara is dalk ‘n spook. Sy het eenkeer ‘n sosiale wetenskaptaak gedoen oor haar tante wat al lankal dood is, maar nog steed op familiebyeenkomste opdaag, en op al die foto’s sigbaar is. Juffrou Schutte het die situasie baie taktvol hanteer, en Mara geprys oor haar deeglike navorsing oor bonatuurlike verskynsels, en gevra of sy dan met photoshop kan werk.

Juffrou Schutte is my gunsteling leerkrag, omdat sy altyd ‘n stimulerende atmosfeer in haar klas skep, wat leer bevorder. Sy skep ‘n positiewe Sosio-emosionele klimaat wat ‘n insluitende klaskamersitusaie daarstel ten einde kooperatiewe leermetodes te bevorder.

Dit beteken dat vandat sy die boelies reggesien het werk ons almal lekker saam.

Thursday, January 6, 2011

Nuwejaarsvoornemens is goed, want dit gee rigting aan ‘n mens se jaar, dit is soos ‘n prioriteitslysie, sê Ouma Martie. Sy skryf haar nuwejaarsvoornemens sorgvuldig op haar jaarbeplanner op, en hou boek van wanneer sy watter een uitvoer.
My Ma sê nuwejaarsvoornemens is ‘n manier om mens se aandag te vestig op die dinge wat ‘n mens die vorige jaar agterweë gelaat het, en my Ouma kan maklik praat, want sy is afgetree en woon in ‘n rusoord, en haar nuwejaarsvoornemens het te doen met purple rinse en valstande. Sy wat Ma is moet drie kinders en ‘n man se lewens reel en dis ‘n ander storie en mens het nie tyd vir lysies nie, tensy dit 'n inkopielysie of die kinders se buitemuurse aktiwiteitslysie is.
My Pa sê nuwejaarsvoornemens is net nog ‘n manier waarop die mense geld uit ‘n mens wil maak, soos kersfees en Valentynsdag en Moedersdag ensovoorts. Maar hy kon nie vir ons sê hoe presies mense geld maak uit nuwejaarsvoornemens nie. Ek dink hy wou net Ma en Ouma Martie se aandag aftrek van ‘n plofbare situasie.
Oom Arno sê nuwejaarsvoornemens is net nog ‘n manier waarop ons Calvinisties- begronde lewensuitkyk ons laat skuldig voel oor ons sogenaamde tekortkominge. Ons onderneem dan om hierdie tekortkominge op te hef deur onrealistiese verwagtinge aan onsself te stel. Wanneer ons dan nie daarin slaag om aan hierdie verwagtinge te voldoen nie, versterk dit ons selfhoon, wat die onderliggende doel is van die Christelik Calvinistiese lewensbeskouing. Of so iets. Ek weet nie mooi wat hy bedoel nie.
My kleinsussie Triegie het by ons oudste sussie Hester ‘n boek gekry vir Kersfees: “Calling on Extraterrestrials”. Haar nuwejaarsvoorneme is gevolglik om kontak te maak met wesens van ‘n ander planeet.
Luané sê sy dag Triegie het lankal, en háár voorneme is om te groei in haar kuns en te streef na selfverwesentliking.
My Ma sê sy wens Luané wil voorneem om hierdie jaar nie deure te klap nie.
Luané sê sy wens my ma wil voorneem om nie op haar te pik nie.
My pa sê wie wil voorneem om te gaan koffie maak, en is daar nie nog van Ouma Poppie se vrugtekoek oor van Kersfees nie?
Ouma Martie sê nee. Poppie se vrugtekoek is te ryk, dit gee haar sooibrand.
Ma sê beggars can’t be choosers en haar ma se vrugtekoek is die beste in die hele Noordwes provinsie, en sy maak skoonskip op landbouskoue van Parys tot Mafikeng.
My Pa sê Liefie jy moet hierdie jaar 'n tydjie maak om te fokus op jou brandskilderwerk, of wat van jy doen daai ekstra potterykursus waar ‘n mens ‘n vyf-en-twintig stuk eetstel in ‘n jaar maak.
My Ma sê kan sy regtig, en my Pa sê ja en toe soen sy hom en gaan maak koffie.
Toe sê oom Arno die jaar moet nou rigting kry, almal se senuwees is dun van al die feesvier.

My nuwejaarsvoorneme is om beter te doen in geskiedenis, sodat Juffrou Schutte trots kan wees op my. En om my dokumentêre film oor my familie voort te sit. Dit is een van daai projekte wat nooit eintlik ‘n einde sal kry terwyl daar nog ‘n van Alleman rondloop om af te neem nie.

Monday, December 20, 2010

Kersfees is die tyd van die jaar wanneer Afrikaanse mense bymekaar kom en presente uitdeel en dankbaar is vir wat hulle het in die lewe. Vir gesondheid en familie en so aan.

My ma meen Kersfees spandeer mens met familie, so ons gaan nooit see toe of so iets in Desember nie. My pa sê die paaie is in elk geval te vol en gevaarlik, en alles is dubbel so duur. Elke tweede jaar gaan ons Baberspan toe vir Kersfees by Ouma Poppie. Dit is warm in die Noordwes in Desember, so Baberspan Kersfees is meestal swem in die plaasdam, en Waatlemoen eet. Behalwe op kersdag, want dan moet mens aantrek en kerk toe gaan en daarna drie vleise en groente eet met doekpoeding daarna. In Ouma Poppie se eetkamer, wat koel en donker is, met stywe lapservette, en die messe en vurke wat die heeljaar in die vertoonkas lê. Dan mag ons glad nie swem nie, oor dit kersdag is, en omdat mens nie met ‘n vol maag swem nie, en na Ouma Poppie se doekpoeding wil mens in elk geval liewer net op jou rug lê.

Maar ons was verlede jaar op Baberspan, so hierdie jaar is kersfees by Ouma Martie. Daar is nie eintlik plek in “Die silwer Blaar” om familie te ontvang nie, so Ouma Martie se kersfees is altyd by een van haar kinders.
Ouma Martie hou daarvan om haar Kersfees in ons huis te kom vier, want sy sê Oom Arno se woonstel is te klein en donker vir die krismis spirit, en Tannie Rita se huis te groot en glansryk om ‘n stalgeboorte in te herdenk. Oom Arno en Tannie Rita is haar ander kinders. Oom Arno hou nie daarvan as ons vir hom “oom” sê nie, en gee letterkunde by die universiteit. Hy is nie getroud nie, en het baie vriendinnetjies. Tannie Rita is n vryskut eiendomsagent en bly in Waterkloofrif. Tannie Rita se man se naam is Johans en hy ry ‘n Mercedes met ‘n afslaan dak, en hy is ‘n besigheidsman. My pa sê dis nou ‘n mooi naam vir ‘n tyresmous, maar nie voor hulle nie. Tannie Rita hou nie daarvan om by ons te kom kuier nie, want sy sê mens kan nie Classic FM in die Moot opvang nie. Hulle het twee kinders, Jean-Pierre en Elisma. Jean-Pierre is veertien en het laas kersfees ‘n Quadbike present gekry. Elisma is net so oud soos my sussie Luané, en is in ‘n privaatskool omdat sy perdry en in sterrekunde belangstel. Mens kry dit nie in die gewone skole nie.

Hulle kom almal vir Kersdag na ons toe. My ma is maar senuweeagtig oor sy vir so baie mense moet kook. Sy is maar senuweeagtig as sy vir min mense moet kook ook. Ouma Martie sê bog dit sal goed gaan, sy sal die poeding maak. Ouma Martie maak die beste trifle in die hele wêreld. Sy sê die geheim lê in die brandewyn.

Oom Arno sê Kersfees is bourgeois en ‘n simptoom van die materialistiese westerse lewensbeskouing. My ma sê Oom Arno is net in beginsel teen enige tradisionele waardes en tradisies omdat hy ‘n diepgaande vrees vir voorstedelikheid koester.

Maar hy kom elke jaar saam kersfees hou, want die intellektuele wêreld raak maar eensaam oor Desember.

Ek en Triegie is besig om ‘n voorstelling van die stalgeboorte uit papier mache te maak, en Luané gaan die kersboom versier. Luané is baie kreatief, en wil gaan kuns studeer by Stellenbosch as sy klaar is met matriek. Sy wou eintlik ‘n wit kersboom gemaak het, maar my Ma sê Kersfees is alreeds plastiek genoeg, en hier is nie sneeu nie, en mens kan die denneboompie na die tyd aan die outehuis skenk. Ouma Martie sê bog, net nie nog sipresse op die perseel nie, dit lyk al na ‘n begraafplaas. Toe besluit hulle op ‘n kaktus, want dit is meer afrikaerig, en die dorings help om die versierings op te hang.

My oudste suster Hester is nie hier vir Kersfees nie. Hester studeer filosofie op Stellenbosch. Sy is in Malawi saam met haar kerk se jeuggroep, waar hulle uitreik en ‘n kerk uit modder en gras bou. Amper soos die stal in Betlehem, sê Triegie.

Ek hou nie eintlik van Kersfees nie, want dit is altyd vir my ‘n teleurstelling vandat ek uitgevind het vader Krismis is ‘n mens se pa. Ek het dit uitgevind toe ek sewe jaar oud was, toe Vader Krismis Jean-Pierre se pa was. Ek wou weet hoekom Jean-Pierre ‘n radiobeheerde motortjie kry, en ek net ‘n kerkhemp en ‘n inkleurboek. Sedertdien was Kersfees nog nooit weer dieselfde nie, maar ek het my nou al met teleurstelling vereenselwig.

My ma gaan ‘n kalkoen braai wat van Baberspan af kom. Sy het al drie maal geoefen, en kry dit heel goed reg. Tannie Rita bring ‘n geglasuurde ham van Woolies, en Oom Arno gaan n eksotiese voorgereg maak, maar ons weet nog nie wat nie. Oom Arno maak lekker kos, maar dit is maar bietjie vreemd vir die boerepalaat, sê my pa.
Ma sê ontspan, dis net voorgereg, so die porsies sal klein wees. Ma wou eintlik weer fopkreefkelkie gemaak het soos altyd, toe sê oom Arno ag here nee, hy sal voorsien. Die lewe is te kort vir slegte wyn en fopkreefkelkie.

Wednesday, December 15, 2010

16 Desember is geloftedag. Ouma Poppie Piekfyn en Oupa Herklaas Pretorius van Baberspan gaan elke jaar geloftefees toe op Doornpan. Ouma Poppie is op die feeskomitee en haar portefeulje is spyseniering. Dit beteken sy moet sorg vir Kerrie en rys op die voor-aand, wanneer die plaaslike toneelgeselskap “Die Drie Van der Walts” opvoer. En op die feesdag self moet sy sorg dat die dames van die spysenieringskomitee genoeg aartappelslaai en melktert bring.

Soms, as ons vir die vakansie op die plaas is, gaan ons saam. Dit was tot dusvêr vir my ‘n troumatiese ervaring: Toe ek drie jaar oud was het die Ludicks van Delareyville hulle bulldog, Prinses Di, saamgebring. Ek was op daardie ouderdom nog nie aan die spesifieke honderas blootgestel nie, en het gedink dit is ‘n vlakvark. Toe ek vyf jaar oud was, was daar perdebye in die buitetoilet, en ek het nie geweet nie en die deur toegeklap. Ek klap nooit meer deure nie, en reken dit is ‘n tienerstreek wat my ma gespaar sal bly, in my geval.

Triegie hou van geloftedag op Doornpan. Daar is ‘n perdekommando wat vir haar mooi is, en daar is interessante spinnekoppe in die bloekombome. Sy sê sy het altyd gedink plaasmeisies is gewoond aan al die ondiere op die platteland, maar blykbaar nie. My ma hou ook van geloftedag want dan sien sy weer al die mense saam met wie sy grootgeword het, en daar is elke jaar ‘n gaskunstenaar. Verlede jaar was Lieb Bester daar, en my ma het nog steeds ‘n crush op hom vandat sy hom die eerste keer in “Seun van die Wildtemmer” gesien het.

My pa is maar stil oor geloftedag, want hy drink elke jaar te veel suurlemoenbier en dan voel hy olik voor die dag om is. Tannie Esther Geyer maak gemmerbier ook, maar my pa sê dit gee hom sooibrand. Tannie Ester se man, oom Lammer is verantwoordelik vir die braaivleisvure. Hy hou eintlik van skaap op die spit, volgens oupa Herklaas, maar die feeskomitee voel ‘n skaap is oordadig vir geloftedag, want die stemming moet gewyd en stil wees. ‘n Skaap op die spit stuur die verkeerde boodskap, en dan ruk die feestelikhede hand-uit.

Nie almal hou van Geloftedag nie. Oom Arno sê dit is teenstrydig met die gees van versoening wat ons moet nastreef in Suid Afrika. Hy sê ook die geskiedenis van Bloedrivier is ideologies ingekleur en dat die weergawe wat die boere nastreef nie ‘n objektiewe en feitelik korrekte voorstelling van gebeure is nie. My ma sê ‘n gelofte is ‘n gelofte, en my pa sê oom Arno het altyd ‘n intellektuele argument vir alles, en los die mense uit as hulle wil geloftefees hou, daar is min genoeg van die kultuur oor.

My Pa se suster, Tannie Rita en haar man Johans gaan nooit geloftefees toe nie, want Tannie Rita sê daar is nie ‘n feesterrein naby Plêt nie. Elisma en Jean-Pierre is in ‘n privaatskool saam met kinders van ander kulturele groepe, en dit sal die verkeerde boodskap uitstuur.

Ouma Martie woon nie meer geloftedag by nie. Dit is te stowwerig by die monument, en wie sal haar nou vat, die oord se bussie ry nie soontoe nie. Sy gaan nooit saam Baberspan toe nie, want sy en Ouma Poppie sit nie langs dieselfde vuur nie. Sy sê sy het in elk geval op haar dag haar deel gedoen, en elke jaar in die “Drie van der Walts” gespeel. Daardie jare het hulle nog ernstige toneel ook gedoen, soos “Moeder Hanna” en “Hantie kom Huistoe”, nie net klugte soos vandag nie. Dit het meer gepas by die stemming van geloftedag, reken ouma Martie, en die rolle het meer toewyding gevra van die spelers. Ma sê Ouma Martie is maar ‘n dramaqueen en volgens pa het die melodramas mooier kostuums gehad.

Luané dink meestal geloftedag is outyds. Sy dink nie dit het ‘n plek in die lewe van die modern Afrikaner nie, en tye het verander, en dinge is nie meer dieselfde as toe die gelofte gemaak is nie, en mens moet dit in ag neem. Maar sy verander nogal baie van opinie. Sy het verlede jaar vir Okkie Mosterd daar ontmoet. Okkie swat op die PUK en hy was deel van die perdekommando. Hy het op ‘n wit perd gery, en Luané was in ‘n romantiese fase. Die romanse het gehou net tot na die nuwejaarsdans, want toe moet ons terug Pretoria toe.

Ten spyte van die traumas van my jeug, het ek nie eintlik ‘n opinie oor geloftedag nie. As ‘n dokumentêre filmmaker is dit my rol om die feitelike waarheid te wys, en die kyker moet dan self sy/haar gevolgtrekkings maak. My film gaan in elk geval nie oor geloftedag nie, dit gaan oor my familie.

En my familie gaan geloftedag toe of hulle wil of nie, want ouma Poppie sê so.

Tuesday, December 7, 2010

Ouma Martie Pansegrou is my Pa se ma. Sy is die heel beste ouma in die wêreld, want sy verstaan sonder dat ‘n mens hoef te verduidelik. Ouma Martie het vir my ‘n videokamera present gegee vir my twaalfde verjaardag. Ek wil ‘n dokumentêre filmmaker word. My ma wil eerder hê ek moet ‘n ingenieur word soos Andries Theron. Andries Theron is ‘n seun in my klas, en hy is goed met wiskunde, en hy is ‘n sportstêr. Hy wen elke jaar die Victor Ludorum in die Moot. Of sy wil hê ek moet ‘n dokter of ‘n apteker word, want wie weet wat kos medisyne eendag. My Pa sê bog die kinders is nog snuiters. Toe hy ons ouderdom was wou hy nog ‘n brandweerman geword het.

Ouma Martie Pansegrou was drie keer getroud. Sy het ‘n kind uit elke huwelik. My pa het voortgespruit uit haar eerste huwelik, met Joop van Alleman. Hy was ‘n joernalis by die Transvaler en het my ouma op ‘n Oujaarsdans in die stadsaal ontmoet. Ouma Martie was jonk, en mooi, en het in die stad gewerk as regssekretaresse. My ouma sê Joop was die groot liefde van haar lewe. Maar hy is dood in ‘n motorongeluk toe my pa sewe jaar oud was. Twee jaar na sy dood trou my Ouma met Piet Spies, 'n besigheidsman van Krugersdorp. Sy het hom op ‘n liefdadigheidsbal by die Harlequins rugbyklub ontmoet. Sy het geweet hy sal goed na haar en pa kyk, toe trou sy vinnig met hom en trek in ‘n groot huis in Krugersdorp in. Uit die huwelik word Tannie Rita gebore, ‘n moeilike kind sommer van geboorte af. Piet Spies was ‘n haan onder die henne, sê my pa, en terwyl my ouma sukkel met Tannie Rita, sukkel hy met sy sekretaresse. Toe skei my ouma hom, kom terug Pretoria toe, en trek in ‘n groot huis in Queenswood in.

Toe trou Ouma Martie met Piet Pansegrou, ‘n pierewaaier met hare soos Elvis, ‘n vinnige motor en ‘n groot huis in Waterkloof. Hulle het mekaar op ‘n maskerbal in die Staatsteater ontmoet. Ouma sê it was fun while it lasted, maar my pa het nooit van hom gehou nie. Oom Arno word toe uit die huwelik gebore. My ouma sê hy is ook die enigste goeie ding wat op die ou end uit die huwelik gekom het. Buiten natuurlik die erflating, maar dis wêreldsgoed, en tel nie regtig nie: Toe oom Arno sewe jaar oud is, kry Piet Pansegrou ‘n hartaanval. Tog ‘n tragedie vir so ‘n jong man, en nou die ou vroutjie met die drie kinders, wat gaan van hulle word, het die mense glo gewonder. Maar Ouma Martie was nog altyd ‘n vrou met ‘n plan en ‘n diploma as regssekretaresse: Sy verkoop toe die huis in Waterkloof, belê die geld en trek terug na haar huis in Queenswood. En gaan werk weer, want ‘n mens kan nie net so rondsit nie, al het mens geld.

Dis dan nou die laaste, sê my ouma vir haar drie kinders, nou trou ek nie weer nie. Pa was toe al mooi groot, en die man in die huis en alles. Tannie Rita was maar steeds ‘n moeilike kind, maar nou van buierigheid en puberjare, en nie meer van sieklikheid nie. Oom Arno was soet, en het himself amper grootgemaak, sê my ouma, altyd met sy neus in ‘n boek. Ouma Matie het ook nooit weer getrou nie, al is sy nie baie erg op die van “Pansegrou” nie. Sy het van tyd tot tyd kêrels gehad, maar nie nou meer nie. Al die interessante mans sterf vroeg, sê sy, want daar is niemand van haar portuur oor wat die moeite werd is nie. Nou hou sy teepartytjies, behoort aan boekklubs, doen joga en belê in belangrike projekte. Soos my loopbaan as dokumentêre filmmaker, byvoorbeeld.

Ek wou my heel eerste dokumenêre film oor my ouma gemaak het, maar sy wou nie haar toestemming gee nie.

Sy sê nee, as jy regtig tyd op so iets wil mors, doen dit eendag as ek dood is: n dokumentêre film moet die waarheid rondborstig vertêl, en nie mooi broodjies bak nie.

As ek ter siele gegaan het kan jy die wêreld die waarheid oor my vertel, sê sy.

As jy dit NOU doen, trek ek jou vêlle af.

Tuesday, November 30, 2010

My naam is Jakobus Johannes van Alleman. Ek is ‘n twaalfjarige Afrikaner, woonagtig in die Moot, Pretoria, Gauteng, Suid Afrika, Suidelike Halfrond, die Aarde in die een-en twintigste eeu.

My ouma, Ouma Martie Pansegrou, het vir my vir my twaalfde verjaardag ‘n videokamera present gegee. My ma dink dit is ‘n uitspattige geskenk, en dat ouma Martie my voortrek. Ek dink dit is die beste geskenk wat ek nog ooit gekry het, en noodsaaklike toerusting om my voor te berei vir my loopbaan eendag. Ek wil ‘n dokumentêre filmmaker word.

Michael Moore is ‘n groot invloed op my werk. Ek hou van hoe hy allerhande belangrike kwessies ondersoek en mense irriteer omdat hy die waarheid praat. Oor die algemeen hou nie te veel mense van die waarheid nie. My pa sê altyd “Eerlikheid duur die langste”, maar as ek so na die wêreld kyk, dink ek my pa is ‘n dromer of ’n idealis. Of albei.

My eerste projek is om ‘n dokumentêre film te maak oor my familie. Ek hoop dat dit met ‘n vuurpyl in die ruimte ingeskiet kan word, of dalk in ‘n gat begrawe kan word, soos in ‘n tydkapsule of iets, sodat die mense oor ‘n honderd jaar of die aliens van ander planete eendag sal weet wie en wat ‘n Afrikaner was.

My familie het ses lede:

  1. Louis van Alleman: My pa. Die hoof van die gesin. Rekeningkunde-onderwyser van beroep.
  2. Ansie van Alleman, neé Pretorius: Sy eggenoot, en my ma. Moeder en tuisteskepper
  3. Hester van Alleman: Louis en Ansie se eersgeborene. Hester is al op universiteit. Sy studeer kultuurgeskiedenis op Stellenbosch. My ma wens sy wou eerder ‘n apteker of arbeidsterapeut geword het.
  4. Luané van Alleman: n Tienermeisie. Veel meer kan mens nie sê voordat sy haarself nie gevind het nie.
  5. Jakobus Johannes van Alleman: Ekself. Die enigste seun in die familie. Buiten my pa, nou.
  6. Triegie van Alleman: My kleinsussie, en produksie-assistent. Triegie se regte naam is eintlik Trichaardt. Dit is nogal ‘n snaakse naam vir ‘n klein dogtertjie.

Triegie is nogal ‘n snaakse klein dogtertjie. Haar graad een juffrou het eenkeer gesê sy is outisties, toe sê my Ma die juffrou moet haar sielkunde een diagnoses vir haarself hou en leer om beter klas te gee.

Ek het nog oumas en ‘n oupa en ooms en tannies en neefs en niggies ook.
Maar my eerste dokumentêre film gaan nie oor hulle nie.