Wednesday, December 15, 2010

16 Desember is geloftedag. Ouma Poppie Piekfyn en Oupa Herklaas Pretorius van Baberspan gaan elke jaar geloftefees toe op Doornpan. Ouma Poppie is op die feeskomitee en haar portefeulje is spyseniering. Dit beteken sy moet sorg vir Kerrie en rys op die voor-aand, wanneer die plaaslike toneelgeselskap “Die Drie Van der Walts” opvoer. En op die feesdag self moet sy sorg dat die dames van die spysenieringskomitee genoeg aartappelslaai en melktert bring.

Soms, as ons vir die vakansie op die plaas is, gaan ons saam. Dit was tot dusvêr vir my ‘n troumatiese ervaring: Toe ek drie jaar oud was het die Ludicks van Delareyville hulle bulldog, Prinses Di, saamgebring. Ek was op daardie ouderdom nog nie aan die spesifieke honderas blootgestel nie, en het gedink dit is ‘n vlakvark. Toe ek vyf jaar oud was, was daar perdebye in die buitetoilet, en ek het nie geweet nie en die deur toegeklap. Ek klap nooit meer deure nie, en reken dit is ‘n tienerstreek wat my ma gespaar sal bly, in my geval.

Triegie hou van geloftedag op Doornpan. Daar is ‘n perdekommando wat vir haar mooi is, en daar is interessante spinnekoppe in die bloekombome. Sy sê sy het altyd gedink plaasmeisies is gewoond aan al die ondiere op die platteland, maar blykbaar nie. My ma hou ook van geloftedag want dan sien sy weer al die mense saam met wie sy grootgeword het, en daar is elke jaar ‘n gaskunstenaar. Verlede jaar was Lieb Bester daar, en my ma het nog steeds ‘n crush op hom vandat sy hom die eerste keer in “Seun van die Wildtemmer” gesien het.

My pa is maar stil oor geloftedag, want hy drink elke jaar te veel suurlemoenbier en dan voel hy olik voor die dag om is. Tannie Esther Geyer maak gemmerbier ook, maar my pa sê dit gee hom sooibrand. Tannie Ester se man, oom Lammer is verantwoordelik vir die braaivleisvure. Hy hou eintlik van skaap op die spit, volgens oupa Herklaas, maar die feeskomitee voel ‘n skaap is oordadig vir geloftedag, want die stemming moet gewyd en stil wees. ‘n Skaap op die spit stuur die verkeerde boodskap, en dan ruk die feestelikhede hand-uit.

Nie almal hou van Geloftedag nie. Oom Arno sê dit is teenstrydig met die gees van versoening wat ons moet nastreef in Suid Afrika. Hy sê ook die geskiedenis van Bloedrivier is ideologies ingekleur en dat die weergawe wat die boere nastreef nie ‘n objektiewe en feitelik korrekte voorstelling van gebeure is nie. My ma sê ‘n gelofte is ‘n gelofte, en my pa sê oom Arno het altyd ‘n intellektuele argument vir alles, en los die mense uit as hulle wil geloftefees hou, daar is min genoeg van die kultuur oor.

My Pa se suster, Tannie Rita en haar man Johans gaan nooit geloftefees toe nie, want Tannie Rita sê daar is nie ‘n feesterrein naby Plêt nie. Elisma en Jean-Pierre is in ‘n privaatskool saam met kinders van ander kulturele groepe, en dit sal die verkeerde boodskap uitstuur.

Ouma Martie woon nie meer geloftedag by nie. Dit is te stowwerig by die monument, en wie sal haar nou vat, die oord se bussie ry nie soontoe nie. Sy gaan nooit saam Baberspan toe nie, want sy en Ouma Poppie sit nie langs dieselfde vuur nie. Sy sê sy het in elk geval op haar dag haar deel gedoen, en elke jaar in die “Drie van der Walts” gespeel. Daardie jare het hulle nog ernstige toneel ook gedoen, soos “Moeder Hanna” en “Hantie kom Huistoe”, nie net klugte soos vandag nie. Dit het meer gepas by die stemming van geloftedag, reken ouma Martie, en die rolle het meer toewyding gevra van die spelers. Ma sê Ouma Martie is maar ‘n dramaqueen en volgens pa het die melodramas mooier kostuums gehad.

Luané dink meestal geloftedag is outyds. Sy dink nie dit het ‘n plek in die lewe van die modern Afrikaner nie, en tye het verander, en dinge is nie meer dieselfde as toe die gelofte gemaak is nie, en mens moet dit in ag neem. Maar sy verander nogal baie van opinie. Sy het verlede jaar vir Okkie Mosterd daar ontmoet. Okkie swat op die PUK en hy was deel van die perdekommando. Hy het op ‘n wit perd gery, en Luané was in ‘n romantiese fase. Die romanse het gehou net tot na die nuwejaarsdans, want toe moet ons terug Pretoria toe.

Ten spyte van die traumas van my jeug, het ek nie eintlik ‘n opinie oor geloftedag nie. As ‘n dokumentêre filmmaker is dit my rol om die feitelike waarheid te wys, en die kyker moet dan self sy/haar gevolgtrekkings maak. My film gaan in elk geval nie oor geloftedag nie, dit gaan oor my familie.

En my familie gaan geloftedag toe of hulle wil of nie, want ouma Poppie sê so.

1 comment: